083 455 6966   sapercheron@gmail.com   
Uit vergange se dae

Uit vergange se dae

Deur Hennie Basson

Daar is min mense oor wat die tyd onthou toe Percherons nog ‘n algemene gesig op veral Bolandse . wingerd- en graanplase was.  Van oud tot jonk het gewoonlik verstom gestaan en kyk as hierdie reusagtige perde ‘n taak verrig – voor die ploeg of besig om ‘n wa te trek. Selfs munisipaliteite soos dié in Johannesburg en Bloemfontein en in bosbouplantasies het op groot skaal van hulle gebruik gemaak.

Dit was die hewige ommeswaai vanaf perdekrag tot meganisasie – voertuie en trekkers – wat in latere jare van hierdie trotse diere ‘n rariteit gemaak het.  En selfs nou nog, terwyl daar weer ‘n oplewing by mense is om Percherons te benut, skiet die gemoed vol as hulle ons laat terugdink na daardie vervloë dae. Na hoe ons pa’s en oupas en hul werksmemse met groot sorg hierdie vrywillige werkers vertroetel het van soggens vroeg tot met sonsaktyd.

Die sukses van hul boerderye is immers in ‘n groot mate ook deur die werkkrag van hierdie imposante swaargewigte bepaal. Reeds in die laat 1800’s is van hierdie reuse-perde in ons land opgemerk – waarskynlik deur spekulante ingevoer. Etlike dekades later (nou net meer as ‘n eeu gelede) het die eerste regering ná Uniewording in 1910 sy versiendheid bewys en het die eerste amptelik invoere van swaar trekperde gevolg.

Aanvanklik was dit Clydesdales, Shires en Suffolk Punch-perde en kort daarná die eerste Percherons uit Frankryk. By landbou-staatsinstellings soos Grootfontein, Standerton, Glen en Elsenburg het hulle ‘n instelling geword. Dit was nou wel sowat veertig jaar later, maar ek onthou nog goed  hoe my pa – ‘n wingerdboer van die Agter-Paarl -- ons gesin teen die middel van die vorige eeu na Elsenburg geneem het om na hierdie mooi diere te gaan kyk. Op ons plaas teen die Perdeberg is ‘n Percheronkruising immers ook vir plaaswerk gebruik.

Ook op landboutenstoonstellings soos in die Paarl, op Malmesbury en op die Kaapse Skou in Goodwood het ons ons verwonder aan hierdie diere waarvan die hingste met hul kunstig gevlegte maan- en sterthare kinderogies veral kon laat flikker.

Soos die talle muile en ligte trekperdrasse voor ‘n wa in daardie dae die hoogtepunt van ‘n Bolandse skou was, het  ‘n mens  ook met groot afwagting uitgesien na die die paradering van die groot Percherons in die hand of ook voor ‘n wa.  Agt spierwittes voor ‘n wa  -- soos vinkel en koljander het die een by die ander bymekaar gepas – was ‘n gesig wat my altyd sal bybly. Hierdie ou grotes het nou wel nie oor die vlugvoetigheid van die Hacneys en Vlaamse en Friesperde beskik nie, maar die eenvormigheid en statigheid was iets om te aanskou.

Dit was die bloeitydvak van die Percheron is ons land. By geleentheid het tot agt spanne van hierdie ras aan die kampioenskappe op Goodwood deelgeneem. Dus, altesame 64 van hierdie pragdiere gelyktydig in die skou-arena!  Name soos Histon Hallmark, Histon Landmark en Histon Advocate was op al wat boer is se lippe.

Dit was veral die groot wit perde van Oom JP Hugo van die plaas Salomonsvlei  in die Klein Drakenstein wat vanaf 1953 tot in die sestigerjare die toeskouers in groot getalle in vervoering gehad het. Vanaf onder die koeltes in die somerhitte  rondom die Pêrelse skougronde was ek as kind beskore om hulle te beleef.  Dit was nie die “Walliese Ponies” wat baie jare later in ons land geteel is nie, maar die massiwiteit van die hingste van ‘n destydse 2000 pond of meer wat jou na die asem laat snak het. 

Salomonsvlei is feitlik teenaan die dorp geleë en die stuk of twintig perde kon in daardie jare sommer padlangs na die ou Parys-skougronde langs die Bergrivier geneem word. Vir verbygangers was dit iets besonders om te sien hoe hierdie imposante diere feitlik in gelid na die skou gelei word. Hierdie parade het hom jaarliks herhaal wanneer die groot kompetisie op die Kaapse Skou gehou is. Dan weer, moes hulle dieselfde roete loop, maar enkele kilometers verder na die Hugenoot-stasie vanwaar hulle per spoor na Goodwood geneem is.  

Nooit weer sal ons hierdie ervaringe beleef nie. Net herinneringe bly nog oor. Al wat ek nog kan doen, is om hierdie reeds vergete ou grotes uit verbygegane jare te salueer. Ook hul eienaars en staljongens wat so getrou  en met deernis na hul omgesien en hulle versorg het.
 

 -
 -



© Percheron Horse Breeders' Society of South Africa. All Rights Reserved.
No article or picture may be reproduced\published
without the written consent of Percheron Horse Breeders' Society of South Africa.