076 053 4103   sapercheron@gmail.com   
Van Kragtige Werker tot Plesierperd

Van Kragtige Werker tot Plesierperd


Sedert die eerste Percheronperde meer as ‘n eeu gelede die land binnegekom het, het die rol van hierdie swaar trekperdras inderdaad ‘n metamorfose ondergaan. Anders as jare gelede word deesdae meer op sy veelsydigheid klem gelê. HENNIE BASSON gee hier ‘n oorsig oor die geskiedenis van die Percheron aan die suidpunt van ons kontinent.

Die antieke Percheron se oerwortels lê in die Ooste waar dit Arabiese voorsate gehad het. Net soos baie van ons landgenote stam hierdie koning van die trekperde egter uit Frankryk. Dis hier, in die Perche-distrik, dat daar in die jaar 732 nC begin is om aan hierdie ras gestalte te gee en aan wie die naam ontleen is.

Dit is egter in Amerika waar dit sedert die 1840’s vir die eerste keer tot ‘n volwaardige ras ontwikkel het en waar sy gewildheid as ‘n werksperd so gegroei het dat daar teen 1915 reeds 40 000 geregistreerde teelmerries was.

In Frankryk is egter ook begin om vir grootte en trekkrag te selekteer. In die negentiende en vroeë twintigtigste eeu is hulle weens hul krag, liggaamsgrootte en uithouvermoë op veral plase en as koetsperde gebruik.

Percherons is mettertyd na ‘n verskeidenheid van lande versprei. Ook na die Verenigde Koninkryk wat vanaf die 1920’s vir baie jare ‘n groot invloed op ons eie perdebevolking gehad het. Wanneer die eerste perde van hierdie ras na Suid-Afrika gekom het, is onseker. Volgens oorlewing was hier sover terug as in die tweede helfte van die negentiende eeu reeds Percherons in ons land. Hul is waarskynlik deur smouse die land binnegebring

In 1908 het die eerste amptelike invoer van ‘n Percheron hierheen geskied. Dit was toe die jong hings Hammer deur J.H. de Wet van Cheval, by Boshof in die Vrystaat ingevoer is  Hy was nog nie eens twee jaar oud nie.

Dié stap is op ‘n onbekende datum opgevolg deur die aankoop van die hings Jones deur die Kaapstadse onderneming Woodhead Plant en Co. Hierdie twee hingste is onderskeidelik deur M. Fillette en M. Loriot in Frankryk geteel en is as swart perde in respektiewelik Volumes 6 (1911) en 7 (1912) van die SA Stamboek aangeteken.        
Hiermee is die eerste fondamenstene vir die totstandkoming van hierdie besonderse ras is ons land gelê.


Die staat tree toe

Kort ná Uniewording in 1910 en sedert die eerste amptelike invoere van Percherons, het die staat d.m.v. die destydse Departement van Landbou in die eerste aantal jare wat hierop gevolg het die waarde van hierdie bonkige perde as werksdiere in veral die landbou begin besef.

Daarom is nie minder nie as 21 Percherons tot in die 1920’s uit Frankryk ingevoer en by staatsinstellings in verskeie dele van die land gehuisves.

Hierdie was ‘n uiters versiende en belangwekkende besluit, want hierdie ras was toe nog skaars bekend in die Verenigde Koninkryk.. Die benutting van veral Shires, Clydesdales en Suffolk Punchperde was toe nog dáár aan die orde van die dag.

Die feit dat Percherons se voortreflikhede in veral die Eerste Wêreldoorlog (1914 – 1916) en die werk- en kruisvermoë van hierdie ras in die Verenigde State gestalte gekry het, moes egter grootliks die besluit om Percherons na die VK in te voer, beïnvloed het.

In Volume 8 (1913) van SA Stamboek is vier hingste en tien merries opgeneem wat almal deur die staat na sy proefplase op Standerton en Potchefstroom en die Landbouskool by Elsenburg uitgefaseer is. Twee van die hingste, nl. Jargeau en Justifiant, is by Standerton gebruik, die hings Joliet op Elsenburg en Krampon op Potchefstroom. Vyf van die merries is op Standerton uitgeplaas.


Grootfontein se rol

Die stoetery van die Grootfontein-Landboukollege by Middelburg het tot omstreeks 1940 die sentrale rol in Percheronteling in die land vervul. Die ander staatsinstellings wat oor Percherons beskik het, was in ‘n ondergeskikte hoedanigheid. Hulle het oor kleiner stoeterye beskik en is vanaf Grootfontein van hingste voorsien.

Kort ná Uniewording is die eerste hings, Kounakir, en vier merries uit Frankryk vir gebruik op hierdie Karooplaas ingevoer. Hulle is in Volume 10 van SA Stamboek aangeteken. Dit is gevolg deur die Franse hings Quagnard en die eerste hings wat vanaf Kanada die land binnegebring is, nl. Viscount.

Veral nadat die skimmel Joliet (gebore in 1909 in Frankryk) vanaf Elsenburg na  Grootfontein uitgeplaas is, het hierdie hings ‘n groot invloed op die vestiging van die ras in die land gehad.

Van die belangrikste hingste ooit by hierdie staatsinstelling was egter Prescient wat in 1915 in Frankryk gebore en oorspronklik aan Elsenburg geskenk is. Hy is in Volume 19 van SA Stamboek aangeteken, is later na Grootfontein oorgeplaas en het veral uitstekende merries geteel.

In die dertigerjare is vier hingste en ses merries vir gebruik op Grootfontein ingevoer. Dit het die hingste Lakanal en Offenbach (beide in 1938 uit Frankryk afkomstig) en die swaargewig, O’Laet (1940 vanuit die Verenigde State) ingesluit.

O’Laet was die eerste hings wat uit die VSA die land ingebring is. Hy was uit die bekende hings Laet 133886 en merrie Sybil 188190 en het vanaf Ohio na Suid-Afrika gekom. Hier het hy vir baie jare as teel- en skouhings uitgemunt.

In 1934 is agt hingste en vier merries van Grootfontein by Stamboek geregistreer. Terwyl Percheronteling nou ook by Glen in die Vrystaat, op Cedara in Natal en op Pothcefstroom gedy het, het dit by Elsenburg vir ongeveer ‘n dekade lank byna in die niet verdwyn.

Sedert 1946 tot in die middel van die vyftigerjare, toe Percheronteling op Grootfontein sy swanesang begin beleef het, is drie hingste en vyf voortreflike merries vanaf oorsee hierheen gebring. In 1946 is die beroemde swaargewig-hings Histon Hallmark uit die Verenigde Koninkryk na Grootfontein ingevoer. Hy is in Volume 27 van Stamboek aangeteken en was (tussen 1951 tot 1955) vir drie keer agtereenvolgens die nasionale kampioenhings.

Die laaste hings wat na hierdie kollege in die Karoo gebring is, was Histon Royal Bounty (1955, Volume 31). Toe die laaste van hierdie reuseperde vir oulaas na Middelburg se stasie geneem is, was dit vir baie mense voorwaar ‘n dag van groot heimwee.

Oor dekades het hingste uit hierdie stoet ook hul merk op die belangrikste Percheronskoue in die l;and gelaat. Die laaste groot prestasie van ‘n perd uit dié stal was toe Rozar in 1958 as die bes geteelde Suid-Afrikaanse hings op die nasionale kampioenskappe te Worcester aangewys is. Dit was ‘n vul van Histon Hallmark en die merrie, Histon Fair Rose.


Nuwe verwikkelinge

In die meer as ‘n kwarteeu tussen 1936 en 1960 het die ras ‘n intense opbloei in ons land beleef. Dit is gekenmerk deur belangrike nuwe tendense en gebeure in die plaaslike bedryf.

In hierdie tydperk het private telers al hoe meer begin om op die voorgrond te tree en hulle het Percherons op noemenswaardige skaal laat registreer. Die stigting van die Percheron-perdetelersgenootskap van Suid-Afrika in 1939 was dus ‘n onvermydelike gebeurtenis in die annale van die ras. 

In die vooroorlogse jare het perdeliefhebbers soos sir Abe Bailey (Colesberg), dr. C.M. Rautenbach (Bloemfontein), H. Crous (Holfontein), J.J. Pienaar (Colesberg), E. Minnaar (Graaff-Reinet) en Boeta Theunissen (Boshof) perde ingevoer en die grondslag gelê vir ander boere en perdetelers om hul voorbeeld te volg.

Tydens die Tweede Wêreld-oorlog was invoere uiteraard onmoontlik, maar ná 1945 het individue soos Dan Potgieter (Bloemfontein), Henry Visser (Noupoort), R.V.     Lloyd (Kimberley), P.C. Naudé en seuns (Worcester) en die broers Lesch (Malmesbury) dit wel weer gedoen. In die twee dekades tussen 1930 en 1950, is nie minder nie as 23 hingste en 45 merries ingevoer.

In die 1930’s het Percheronteling op Elsenburg tydelik tot ‘n stilstand gekom.  Hierdie “gewillige werkers” was egter nog onontbeerlik op veral wingerd- en graanplase in die Wes-Kaap en dié mees suidelike landboukollege het teen 1942 die rol van Grootfontein as voedingsbron vir die bedryf begin oorneem.

In veral die Wes-Kaap, maar ook in die Vrystaat, was Percherons nou ook ‘n groot attraksie op landbouskoue en die mededinging tussen vertoners en hul perde was sterker as ooit. Op die Kaapse Skou was tot agt spanne van agt Percherons voor ‘n wa ‘n instelling, terwyl die skou op Worcester by geleentheid met ‘n byna ongelooflike klas van 36 senior merries van hierdie ras kon spog!

Tussen die jare 1940 en 1971 is die nasionale kampioenskappe (met uitsonderings) elke tweede jaar gehou. Die inskripsies op die wisseltrofee wat vir die grootkampioenhings tussen hierdie jare toegeken is, gee ‘n insig in wie van die voorste skouvertoners in daardie drie dekades was. Hierdie trofee is nog in die besit van die familie Lesch van Malmesbury wat dit die laaste keer verower het, nl. In 1971.

Die ander wenners (in volgorde) was Dan R. Potgieter, J. Dold-Chapman, dr. C.M. Rautenbach, P.C. Naudé en seuns, die Landboukollege Grootfontein en J.P. Hugo.


Elsenburg gee die leiding

Toe Elsenburg in die oorlogsjare weer hierdie bonkige diere begin teel, is dié historiese plaas mettertyd nie net gekenmerk vir die voortbrenging van kwaliteit diere nie, maar dit het mettertyd ook die belangrikste voedingsbron vir die verskaffing van teelmateriaal van die ras in die land geword. Dit sou dit bly tot vroeg in die nuwe millennium.

In 1941 is ‘n hings, Grootfontein Monsieur, en tien merries vanaf Grootfontein na hierdie instituut oorgeplaas. Derhalwe kon die stoet in die Boland weer begin om momentum te kry. In hierdie stadium was Grootfontein egter steeds die vlagskip van die plaaslike bedryf. Dit was eers twee dekades later dat die rolle van hierdie twee kolleges omgeruil is.

Onder die tien merries was twee dogters uit die bovermelde Prescient wat vanaf Elsenburg na Grootfontein oorgeplaas is. Deur Prescient se seun, Grootfontein Bayard, was hy ook die grootvader van die swart merrie Elsenburg Ludi wat later ‘n belangwekkende rol in dié stoet sou vervul. Ludi se moeder was Grootfontein Luna wat in utero uit Frankryk ingevoer is.

Met die invloed van veral Ludi het die ontwikkeling van die moderne Elsenburgstoet ‘n reuse hupstoot gekry. In 1955 was daar elf merries by hierdie stoet (waaronder drie dogters van Ludi) en daar is goegedunk om ‘n goeie hings hierheen uit te plaas. Daar is op die welbekende Histon Hallmark besluit wat toe reeds vir byna vyf jaar op Grootfontein benut is.

Histon Hallmark, toe nege jaar oud, het die rol van hoofteelhings hier in die skadu van die indrukwekkende Simonsberg oorgeneem en groot roem op plaaslike bodem verwerf. Nie net was hy die SA kampioenhings nie, maar die gehalte van sy nageslag was só goed dat, ondanks inteling, die aansien van die stoet in die daaropvolgende jare groot hoogtes bereik het.

Hierdie hings was nie besonder groot nie, maar dit was ‘n kragtig geboude perd, met ‘n karktervolle kop en was goed gebalanseerd. Hy het ook vloeiend beweeg. Ofskoon Hallmark ‘n groep eenvormige teelmerries op Elsenburg agtergelaat het, was hul eweneens nie baie groot nie.

Met Hallmark as die belangrikste teelhings het Elsenburg sy lewensvatbaarheid as hoofteelsentrum in die land wel deeglik bewys.. Op sy jaarlikse veiling was hier ‘n bestendige vraag vir Percherons en die stoet het veral die Kaapse Skou op Goodwood en die nasionale kampioenskappe op Worcester goed ondersteun.

In 1961 is ‘n belangwekkende ondersoek na die teel van Percherons, ryperde en trekdiere deur die staat ingestel met prof. J.H.R. Bisschop as voorsitter. Hiervolgens is besluit dat die stoet op Grootfontein gesluit en al die perde na Elsenburg oorgeplaas word. Die grootste Percheronmark was nou in die suide van die land en vir Elsenburg se perde was daar ‘n aanvaarbare aanvraag. 

Elsenburg het in daardie stadium oor 4 hingste 14 meries en ‘n hingsvul beskik. Die meerderheid was van ‘n enkel-stammoederlyn, nl. Elsenburg Ludi, en 13 uit die 19 het uit Histon Hallmark gestam. Die merries het almal plaaswerk gedoen – vanaf karweiwerk tot ghropwerk in die wingerde en boorde.    

Ongeveer tien jaar nadat Hallmark in hierdie stoet gevestig is, het die inbring van nuwe bloed inderdaad noodsaaklik geword. Van die land se voorste kundiges op die gebied van perdeteelt het hul toe weer eens na Frankryk gewend en daar is uiteindelik op die vier jaar oue hings Regulateur besluit.

Hierdie hings was massief en het baie goed met die Hallmark-merries op Elsenburg gekombineer. In die vroeë 1980’s was die hele stoet aan Regulateur verwant, maar in die res van die land het die Percheron as ‘t ware ‘n “bedreigde spesie” geword.

Eers weer in 1981 is ‘n hings vir Elsenburg ingevoer, nl. Miracle’s Northridge Doc. Dit was die eerste hings uit die Verenigde State by hierdie instelling, maar was weens ‘n genetiese probleem ongeskik as teelhings.

In die tagtigerjare het die toepassing van kunsmatige inseminasie wêreldwyd toegeneem en sedert einde 1987 is dit ook op ‘n beskeie wyse op Elsenburg gedoen. Inteling het in die neëntigerjare vererger en boonop was die voorkoms van perdesiekte in 2004 ‘n groot terugslag vir die stoet.

Oor die afgelope driekwarteeu het verskeie persoonlikhede ‘n besondere bydrae tot die behoud en groei van die stoet op Elsenburg gemaak. Dit is aan die toedoen van mense soos mnre. Albert Hanekom, Leep Ferreira en Burry van der Vyfer, dr. J.G. Boyazoglu, en proff. Jannie Swart en Frans van der Merwe en uiteindelik Oom Albert se kleinseun, mnr. Johan van der Merwe, dat die stoet deur selfs moeilike tye van ‘n voortbestaan verseker is.

Vanaf 1943 was wyle Oom Albert vir nie minder nie as 42 jaar lank persoonlik in beheer van die stoet. Van der Merwe, wat die huidige ondervoorsitter van die rasgenootskap is, het vir twee dekades lank (tot in 2008) sy oupa se skoene op Elsenburg volgestaan.


‘n Dekade van heropbou

Weens toenemende meganisasie in die landbou het die trekperdmilieu in die sestigerjare op plase drasties begin verander. Daarmee saam ook die welstand van die plaaslike Percheronbedryf. Hierdie gewillige reuse was nou nie meer ‘n algemene gesig op ons wingerd- en graanplase nie. Bykans veertig minder goeie jare het nou vir dié ras gevolg.

Toe P.J. van der Merwe van Tulbagh in 1968 die drie jaar oue hings Vigoureux uit Frankryk ingevoer het, was dit ‘n tydvak van byna volslae stagnering wat op die plaaslike bedryf begin toesak het. 

Ofskoon die belangstelling in hierdie eens gesogte perde aanvanklik nog redelik was, het dit al hoe meer begin taan. Daar was later ‘n tekort aan goeie hingste vir teeldoeleindes en die verpotte Percherons wat mettertyd hier geteel is, het die wenkbroue laat lig. Dit is immers in die veilingspryse op die jaarlikse Elsenburg-veiling weerspieël.

Hierdie barometer van die stand van die ras in die land het egter in die begin van die nuwe millennium ‘n betekenisvolle oplewing getoon. Dit was in 2001 toe ‘n merrie R15 000 en ‘n jong hings R8 000 op hierdie veiling behaal het. Vyf jaar later is by dié tradisionele geleentheid ‘n stewige rekordprys van R36 000 vir die hings Elsenburg Lindore betaal.

In 2008 is die rekord vir Percheron opnuut verbeter,nl. R56 000 vir die merrie Elsenburg Martie.

Nuwe telers vanuit die noordelike provinsies het in ‘n toenemende mate hul opwagting op Elsenburg gemaak. In so ‘n mate dat hul aankope en latere invoere van perde hierdie ras se oorwig na anderkant die Oranje- en Vaalriviere verskuif het.

Elsenburg het gaandeweg sy status as voedingsbron van die ras begin verloor en individele telers het hul vlerke wyer begin span. Veral in die omgewing van Pretoria waarheen ‘n Percheron weer vir die eerste keer in 41 jaar vanuit Frankryk die land binnegebring is.

Dit was die hings, Sympa de Bellevue, wat in 2008 op luisterryke wyse in die land verwelkom is. Hierdie aanwins van Johan Henning se Summerwind-stoet, oos van Pretoria, is selfs in 2011 tot die land se Perd van die Jaar bekroon. Nog invoere deur individuele telers het sedertdien geskied.

Die afgelope vyf jaar in nie minder nie as sewe hingste en agt merries uit onderskeidelik Frankryk en die Verenigde State ingevoer. Benewens Sympa was die ander ingevoerde hingste uit die land van oorsprong: Tennessy Cauvelliere en Vulkin Chateauguillon deur Henning, Unico de la From deur Klaas van Wyk van Mafura en Vaillant du Challus deur Jan Engelbrecht van Pretoria. Windermere’s Whicker en Lane’s End Prospector is deur Hannes van der Walt van Sterkfontein uit die VSA ingevoer.

Ook in Elsenburg se teelprogram word nou van dié ingevoerde materiaal van individuele telers gebruik. Drie merries in hierdie stal is juis nou dragtig van  Tennessy Cauvelliere.

Met die invoer van ‘n verskeidenheid bloedlyne uit Europa en die VSA is inteling nie meer ‘n faktor nie. In hierdie tye word die genetiese vooruitgang immers absoluut voorop gestel.

Die ras het inderdaad in die jongste jare só vinnig weer momentum gekry dat Percheronskoue soos vanouds ‘n instelling begin word. Daar is juis vanjaar vir die eerste keer sedert 1971 weer ‘n nasionale kampioenskap vir die ras gehou, nl. op Kyalami in Gauteng. Byna dertig topperde het hier meegeding.

Waar die Percheron eers hoofsaaklik as ‘n werks- en trekperd aangewend is, word dit nou ook al hoe meer ‘n plesier- en sportperd en word nuttig in die toerismebedryf gebruik. Perde van hierdie ras is ook gewild as deelnemers in die dryfkunssport. Om só ‘n swaar perd nou ook selfs te laat passies uithaal in die dressuurarena is nie meer ongewoon nie.

Die afgelope aantal jare word ook al hoe meer reklame vir die ras gemaak en selfs  die mark vir opkomende boere word geteiken – mnr. Namo Mwamuka van Pretoria het pas die eerste aktiewe swart lid van die genootskap geword. Weens sy toenemende gewildheid en met toenemende klem op sy veelsydigheid word ‘n deelsgeteelde Percheron nou as ‘n Percheron-sportperd deur die genootskap aangeteken.

Wat seker is, is dat ‘n jong geslag telers besig is om ‘n nuwe dimensie aan Percheronteling aan die suiderpunt van Afrika te verleen en op die roemryke geskiedenis van die ras voort te bou. ‘n Blink toekoms word tegemoet gegaan!

 -
 - Albertus Hanekom met Histon Hallmark links en Lincoln regs.

Albertus Hanekom met Histon Hallmark links en Lincoln regs.

 - Minister van Landbou,  Hendrik Schoeman en adjunk-Minister van Landbou Oubaas Malan by die beroemde hings, Elsenburg Meerlus.

Minister van Landbou, Hendrik Schoeman en adjunk-Minister van Landbou Oubaas Malan by die beroemde hings, Elsenburg Meerlus.

 -
 - Skoolkinders besoek Elsenburg met Albertus Hanekom aan die stuur, laat 70’s.

Skoolkinders besoek Elsenburg met Albertus Hanekom aan die stuur, laat 70’s.

 -
 - Percherons hard aan die werk in die Oos-Kaap.

Percherons hard aan die werk in die Oos-Kaap.

 -
 - Elsenburg Leo

Elsenburg Leo

 -
 -



© Percheron Horse Breeders' Society of South Africa. All Rights Reserved.
No article or picture may be reproduced\published
without the written consent of Percheron Horse Breeders' Society of South Africa.