083 455 6966   sapercheron@gmail.com   
SA Percheron Vereer Jan September

SA Percheron Vereer Jan September


Die talle staljongens, leiselhouers, drawwers en ander werkers wat perd, perderytuig en -werktuig oor dekades heen met knaphandigheid op plase, skoue en met veilings moes versorg, vertoon en laat werk mag nooit vergeet word nie. Hulle kan as die onbesonge helde van die trekperdbedryf beskou word.

Dit was hulle wat getrou, van vroeg soggens tot in die aandskemering, na hul geliefde diere moes omsien. Twee van hulle was uitstaande, nl. Willie en Jannie September van die Landboukollege Elsenburg, aan wie die Percherons hier vir altesaam byna ses dekades toevertrou is. Willem was hier vir 32 jaar werksaam en sy seun Jannie vir langer as 25 jaar. Beide het heel gepas, as ‘t ware in die tuig gesterf.

Willem was die bedagsame regterhand van die legendariese Albert Hanekom en van die land se mees gesogte Percheronhingste, soos Histon Hallmark en Regulateur was onder sy versorging. Só ook die uitstaande merries wat hier in oorvloed was en vullens wat die nodige liefde en aandag van hom en die ander werkers moes ontvang.

Jannie was aanvanklik by die Universiteit van Stellenbosch werksaam en het sy pa in latere jare by die stoet opgevolg. In die begin was wyle Oom Albert ook sy leermeester en in latere jare het hy en Johan van der Merwe te nouste saamgewerk. Aangesien hulle beide op Elsenburg opgegroei het, was daar ‘n uitstekende verhouding en vriendskap tussen hierdie twee.

Dit is veral Jannie se altyd vriendelike persoonlikheid wat nog skerp in ons geheue ingeprent is. Hy het gemaklik met mense gekommunikeer en op skoue, opedae en tydens die besoeke van skoolkinders was dit vir hom ‘n trots om sy liefde vir die perde met andere te deel.

Hy was ware staatmaker wat met die heengaan van Pa Willem op grondvlak vir die nodige kontinuïteit in en voortbestaan van die stoet in sy moeilikste oorlewingsjare verantwoordelik was. Anders as Willem, moes hy in ‘n omgewing werk waarin moderner bestuursmetodes in die stoet baasgeraak moes word.

Jannie se lewensmaat was Wilmiena Helena (gebore Herrst). Vier kinders is uit die huwelik gebore.

Jan September - 01/06/1951 - 10/10/2010

Jan September

01/06/1951 - 10/10/2010




© Percheron Horse Breeders' Society of South Africa. All Rights Reserved.
No article or picture may be reproduced\published
without the written consent of Percheron Horse Breeders' Society of South Africa.