083 455 6966   sapercheron@gmail.com   
SA Percheron Vereer Albert Myburgh Hanekom

SA Percheron Vereer Albert Myburgh Hanekom


‘n Leeftyd ter wille van die Percheron. Dit kan inderdaad gesé word van dié groot liefhebber en kenner van hierdie reuse van die perdewêreld. Vir meer as vier dekades was hy immers die hoeder van die beroemde stoet van die Landboukollege Elsenburg.

Aangesien hierdie stoet vir dekades lank die sogenaamde voedingsbron van die bedryf in ons land was en die gehalte van sy Percherons in ‘n stadium selfs van internasionale gehalte was, kan die betrokkenheid van Albert Hanekom hier as van deurslaggewende belang vir die voortbestaan van die bedryf beskou word.

Op die plaas Nuwedam, by Redelinghuys, moes hy van kleinsaf saam met sy oupa die plaaswerk met perde doen. Daar was nog nie motors en trekkers nie. In 1943 het hy egter die man agter Elsenburg se stoet geword. Dit sou hy uiteindelik vir 42 jaar lank wees.

Dit was veral danksy sy sukses as stoetmeester op Elsenburg dat hy meegehelp het dat die vraag na trekperde van dié ras in veral die wingerdboubiede teen 1960 steeds goed was. Dit was ook ‘n rede waarom die staat besluit het om die bekende stoet op Grootfontein finaal te sluit en al sy perde na hierdie stoet op die suidwestelike hoek van die kontinent te verskuif.

As outoriteit op die gebied van perdebestuur en –teling het Albert hier met van die land se voorste Percherons gewoeker en hulle op die belangrikste trekperdskoue vertoon.

In die ras se bloeitydperk was hy die dryfveer agter die koms van die beroemde Histon Hallmark vanaf Grootfontein na Elsenburg. As nasionale kampioen was hierdie ingevoerde hings toe reeds landwyd bekend, maar tussen die eike en in die berg-omsoomde landskap van die Boland het hy selfs nog meer gedy.

Ook Hallmark se opvolger op Elsenburg, Regelateur, wat direk uit Frankryk vir gebruik in hierdie stoet ingevoer is, het onder Albert se persoonlike toesig hom as ‘n goeie keuse bewys.

Oor meer as ses dekades was veral twee families uiters nou by hierdie stoet betrokke – die Hanekoms en die Septembers. Nadat Albert uitgetree het, het sy kleinseun, Johan van der
Merwe, hier die teuels vir langer as twintig jaar gehou en tot in 2009 die moeilike jare van bedreiging en die heropbou van die stoet met deursettingsvermoë deurstaan.

Dié boorling van die Sandveld was ‘n nederige man,‘n mens-mens, ‘n gemaklike kommunikeerder en iemand wat ná aan die natuur geleef het. Sy eggenote, Sarie Johanna (Loubser), het hierdie perdeliefhebber in al sy werksaamhede ondersteun. Hulle het vier dogters gehad, nl. Jauline, Joyce, Bertha en Chrisna.

Wyle Oom Albert het swepe en perdehalters met die hand gemaak en al die tuie op Elsenburg het hyself in stand gehou. Hierdie taak het hy nog tot op ‘n hoë ouderdom verrig.

Albert Myburgh Hanekom - 11/04/1915 - 22/01/1997

Albert Myburgh Hanekom

11/04/1915 - 22/01/1997




© Percheron Horse Breeders' Society of South Africa. All Rights Reserved.
No article or picture may be reproduced\published
without the written consent of Percheron Horse Breeders' Society of South Africa.