083 455 6966   sapercheron@gmail.com   
SA Percheron Vereer Pieter Christian Naude

SA Percheron Vereer Pieter Christian Naude


Vir langer as ‘n halfeeu was Piet Naudé en die Percheron feitlik sinoniem met mekaar. Só groot was dié boer se bydrae tot die hierdie bedryf aan die suidpunt van ons kontinent, dat sy naam vir altyd in dié annale sal voortleef.

Nie net was Piet ‘n teler by uitstek van hierdie statige perde nie, maar in die tweede helfte van die 1900’s ook die leidende figuur in die Suid-Afrikaanse Percheronbedryf. Hy was ook ‘n gedugde skouvertoner, ‘n gerespekteerde skoubeoordelaar en bowenal ook ‘n mentor vir liefhebbers van dié ras.

Sy pa (ook Pieter Christian) het met hierdie perde op sy plaas Esperance begin werk. Hier, in die Overhexgebied, het hulle vir jare lank ‘n onvervangbare bate geword.

Ongeveer ‘n jaar voordat die Percherontelersgenootskap van SA in 1939 gestig is, het die eerste van hierdie perde van die Naudé’s stamboekstatus verkry en sedert die volgende dekade het hulle ernstig met hulle geskou. Die skoue op hul tuisdorp, Worcester, waar die getal inskrywings mettertyd buitensporig geword het, is altyd goed deur hulle ondersteun. Ook op Robertson, Malmesbury en Goodwood het Esperance se perde altyddeur die oog gevang.

Een van hul roemrykste suksesse was in 1951 toe hierdie broers die nasionale grootkampioenhings, Nomad Gourment, vertoon het. Piet het ook as beoordelaar ‘n groot bydrae tot die handhawing van skoue in die land gelewer. Hy het in dié hoedanigheid sover as die Oos-Kaap en selfs in die Transvaal opgetree.

In 1952, toe hierdie stoet nog as P.C. Naudé en seuns bekend was, het hul die jong hings Histon Ambassador uit die Verenigde Koninkryk bekom. Ses jaar later het Piet Frankryk selfs besoek met die doel om ‘n groter hings in te voer. Sy keuse het op die bekende Kabyle geval wat deur Jean Debelke geteel is.

Met hierdie hings as hoofteelhings het dié stoet ‘n wesenlike bydrae tot die ontwikkeling van die ras in die land gelewer. In 1986 het hy ook nog die merrie Lisa uit Frankryk ingevoer.

Vanaf die vyftiger- tot tagtigerjare was hierdie geliefde persoon ‘n uitstaande leiersfiguur in die plaasike bedryf en vanaf 1961 tot 1982 was hy die voorsitter van die ras se telersgenootskap.

Toe meganisasie op plase met mening posgevat het, was Piet die voorste bittereinder wat die bedryf deur dié moeilike jare gelei het. Sy bydrae ter versekering van die Percheron se voortbestaan, kan dus nie genoeg beklemtoon word nie. Vir jare ná sy uittrede uit die bedryf was hy immers nog die leermeester waarna al wat teler is, hul vir leiding gewend het.

Pieter Christian Naude  - 18/05/1912 - 09/05/2000

Pieter Christian Naude

18/05/1912 - 09/05/2000




© Percheron Horse Breeders' Society of South Africa. All Rights Reserved.
No article or picture may be reproduced\published
without the written consent of Percheron Horse Breeders' Society of South Africa.